Die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.   Romeine 8:21 Afr 83 vertaling)

Die natuur het ‘n bekoring wat ek nie in woorde kan beskryf nie.  Wanneer ek na ‘n lang tyd in die veld kom en met my stapstewels die klippe onder my voete hoor skuif met gras wat al langs die kante verby swiep, voel dit asof my gees weer asemhaal.   Soms loop die trane sommer net uit dankbaarheid wanneer ek, my vriend- die veld, mekaar weer sien.  Regtig, dit is hoe lief ek vir die bos, veld en buitelug is.  Tog is dit ‘n vriendskap waaraan ek beslis nie genoeg aandag skenk nie.

Die reuk van nat bruin grond hou vir my herinneringe in van saamwees, saamwerk en saamverwesenliking met my familie.  Ek het grootgeword met ouers wie se “saamdoen-ding”, tuinmaak was.   Hierdie herinneringe is iets wat my kinders nooit sal ken nie.  Ek het lank terug die voorreg gehad om ‘n uitstekende tuinier te hê en sy passie vir die  grond, plante en struike te ervaar.  Ek het verduidelik wat ek in die tuin gedoen wou hê, die aankope gedoen en hy het met vernuf die prentjie geverf met sy graaf, pik en vurk.  Smiddae wanneer ek tuiskom en soms selfs laataand, het ek eers al die buiteligte aangesit en die mooi van  sy handewerk geniet, al het hy selfs net bome gesnoei.

Een oggend, oppad om vinnig gereed te maak vir radio uitsending, steek ek vas by die voordeur.  Ek skop my warm pantoffels net daar uit, gooi my japon op die stoepie, en soos ‘n kind, tree vir tree met my voete op yskoue gras, betree ek die wêreld van Goddelike skoonheid.  Trane rol oor my wange en al wat ek kon uitkry is: “Here, jammer dat ek dag vir dag verby hierdie tuin hardloop, en die natuur nie eens opmerk nie.  Nie toelaat dat U groen vingers my bedien met Lewe nie.” Beleef hoe hierdie deel van God se skepping jou herinner aan Lewe, groei en God se versorging ook vir jou.  Wanneer jy oppad werk toe is, geniet die skildery van God se groen vingers om jou!