Toe Hy ’n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.” En die vyeboom het dadelik verdroog. – Matteus 21:19

Vandag mag jou groot dag wees, ’n dag gevul met beloftes vol verwagting. Of miskien net die teenoorgestelde. Of dalk net nog ’n dag. Dis tragies dat soveel mense elke dag soveel angs deurmaak en uiteindelik tog geen vrugte pluk nie. Is jy soos die vyeboom wat niks kan wys tot nou toe afgesien van blare nie? “Vat dit dag vir dag” is op die lippe van baie motiveringsprekers, maar die dag vat vir jou stuk vir stuk. Dan is dit die gunstelingstelling oor jou doel in die lewe. Ek stem saam daarmee, maar as jy buite jou seisoen optree, gaan jy dalk nie die vrugte dra nie. ’n Mens kan jou doel vind, maar wanneer jy dit moet uitleef, is dit ’n ander ondervinding. Daar is sekere dinge waardeur jy moet stap. Jy kan nie net die skoene van byvoorbeeld ’n profeet volstaan nie. Daar is ’n proses wat gehoorsaamheid vra, dissipline afdwing … soos met ’n vrugteboom. Dis ’n snoeiproses. As ek dink aan die storie van die verdroogde vyeboom, verstaan ek eerstens dat Jesus nie onredelik was nie. Toe Hy na die vyeboom gestap het om ’n vrug te pluk was dit nie buite vyeseisoen nie. Hy het verwag om versadig te wees.

Vandag vra jy dalk vir Jesus hoekom dinge net nie vir jou uitwerk nie. Jy is in ’n bediening, maar vorder net nie. Dalk wil jy buite jou seisoen vrugte dra. Jy is te haastig om jou doel te besef. Miskien moet God eers die nodige droë takke snoei wat verhoed dat jy vrugte dra wanneer jou seisoen kom. Bogenoemde prosesse behels nie noodwendig dat jy klasse moet bywoon nie. Dit is vir God om jou deur die proses te vat en vir jou om net ’n oomblik stil te word en te luister. Moenie bang of skaam wees om te sê jy het rus nodig nie. Soms moet jy wag. Jy is nooit te oud of te jonk vir enigiets nie. Wanneer jou seisoen aanbreek, sal jy die vrugte dra. Word stil en luister – elke dag is gevul met verwagting.